The artistsConductor: Neels Boonzaaier
|
|
Tickets:
|
Felix Mendelssohn is op 3 Februarie 1809 in Hamburg gebore. Sy grootvader was die beroemde filosoof Moses Mendelssohn. Nadat die familie die Christelike geloof aangeneem het, is Felix saam met sy broer en twee susters in die Lutherse Kerk gedoop. Om hierdie rede kon Felix se latere musiekloopbaan 'n beduidende invloed op die ontwikkeling van die Christelike musiektradisie uitoefen.
As jong kind is Felix en sy suster Fanny gereeld vir musieklesse na Parys gestuur. Daar het hulle veral met die musiek van Mozart kennis gemaak. Reeds op die ouderdom van 9 jaar het Felix in Berlyn in die openbaar as pianis opgetree. Hy het ook gedurende sy kinderjare ywerig begin werk as komponis en het gedurende sy skooljare reeds 5 operas en 11 simfonië gekomponeer. Die meeste van hierdie jeugwerke was nooit gepubliseer nie, en baie van die manuskripte daarvan het ongelukkig gedurende die tweede wêreldoorlog vernietig geraak. Sy beroemde Overture tot 'n Midsomernagdroom (gekomponeer toe hy maar 17 jaar oud was) het gelukkig behoue gebly.
As twintigjarige het Mendelssohn reeds dwars oor Europa bekendheid as pianis, komponis en dirigent verwerf. Ten spyte van 'n uiters besige lewe as uitvoerende kunstenaar en onderwyser het hy uitmuntende kreatiwiteit as komponis gehandhaaf. Vanaf 1833 tot 1835 was hy aangestel as musikale direkteur van die stad Düsseldorf. Vanaf 1836 to 1841 was hy die dirigent van die Gewandhaus simfonie orkes in Leipzig. In 1841 is hy aangestel as musikale direkteur vir Koning Frederik Willem IV van Pruise.
Felix was besonder geheg aan sy suster Fanny, en saam het hulle twee tussen 1830 en 1845 agt bundels van "Liedere sonder woorde" vir die klavier gepubliseer. Hierdie meesterwerkies beklee tot vandag toe nog 'n ereplek in die standaardrepertorium van elke klavierstudent.
Mendelssohn word beskou as die persoon wat die werke van JS Bach gedurende die 19de eeu herontdek het en sodoende aanleiding gegee het tot 'n groot herlewing van belangstelling in Bach se musiek gedurende die 19de en 20ste eeu. Mendelssohn was ondermeer verantwoordelik dat Bach se Mattheuspassie in 1829 vir die eerste keer na Bach se dood weer uitgevoer is. Daarna het die passiemusiek van Bach opnuut bekend geword en word sedertdien wereldwyd jaarliks uitgevoer tydens Paastyd.
Gedurende sy kort leeftyd van 38 jaar het Mendelssohn vyf van sy latere simfonië gepubliseer. Van die beroemdstes hiervan is die Italiaanse Simfonie (1833) en die Skotse Simfonie (1843).
As dirigent was Mendelssohn ondermeer verantwoordelik vir die wye bekendstelling van Beethoven se beroemde negende simfonie (Koraalsimfonie) waarin 'n volledige koor deel uitmaak van die simfoniese partituur. Ter uitbreiding van hierdie simfoniese vorm het Mendelssohn self die "Lobgesang" as simfoniese koraal (sy tweede simfonie, 1840) gelewer.
Die Pretoria Bach Koor is in 1962 gestig en vier dus gedurende die jaar 2002 sy 40 ste bestaansjaar. Die missie van die koor is om die ryk erfenis van koormusiek lewendig te hou deur middel van gereelde uitvoerings. Die koor is veral toegespits op die koormusiek van Johan Sebastian Bach en sy tydgenote en op ander polifoniese oratorium-musiek uit die 17de tot 19de eeu. Die koor staan tans onder die leiding van Neels Boonzaaier.